Skip to main content

Die navorsingspan het op ’n metafoor afgekom in die leeswerk wat deur heelwat skrywers gebruik word om huidige skuiwe ten opsigte van die kultuur en kerk te beskryf, naamlik “Digitale Babilon”. Dit wat ’n mens by jong volwassenes sien, dui op ’n groter tendens wat tans aan die gebeur is. In die tyd van ballingskap na Babilonië, moes die tradisionele tempel godsdiens plek maak vir ’n nuwe manier van godsdiensbeoefening.

Mense se geloof 30 jaar terug was rondom die kerkgebou en die institusionele kerk se byeenkomste gesentreer. Kerkbywoning was ’n kulturele instelling in ’n homogene, Christelike omgewing en mense se geloofspraktyke het meestal dieselfde gebly van een generasie na ’n volgende – soortgelyk aan die tempel tyd van die Bybelse Israel. Maar die skielike en aanhoudende verandering die afgelope paar dekades te midde van die digitale era kan vergelyk word met die ballingskap tyd van Israel wat ook radikale veranderinge vir die Joodse volk teweeg gebring het. Dit het ook die manier waarop hulle godsdiens beoefen radikaal verander. Sonder die tempel, priesters en Leviete moes hulle in die pluralistiese samelewing van Babilon nuwe gewoontes vestig om uitdrukking te gee aan hulle geloof.

Vandag ervaar ons ’n soortgelyke verandering in die sogenaamde “Digitale Babilon” waar mense te midde van ’n radikale anderste kultuur en leefwêreld nuwe uitdrukkings van geloof soek en beoefen, buite die mure van die kerk.

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).