Daar het ‘n reuse skuif plaasgevind in die informasie era waarin ons leef. Kennis is nie meer beperk tot kundiges en boeke nie, want daar is ‘n oormaat kennis tot almal se beskikking via die internet. Die groot vraag is egter hoe om te midde van hierdie oormaat kennis, die regte antwoorde te vind wat relevant en toepaslik is. Die behoefte het dus geskuif vanaf ‘n behoefte aan kennis na ‘n behoefte aan onderskeiding en wysheid.
In die verlede is kennis ook hoofsaaklik deur ‘n kenner (of boek) oorgedra aan ‘n gehoor. Dit was meestal ‘n een-rigting en een-dimensionele proses. Dink maar aan ‘n onderwyser wat voor ‘n klas staan en leer, of ‘n predikant wat ‘n preek en antwoorde uit die Bybel deel. Dit was ‘n proses waarin die teorie verduidelik is en daarna het die ontvanger dit dan prakties gaan toepas. Vandag veroorsaak mense se leefwêreld egter dat hulle kennis op verskeie maniere inwin. Hulle vind dit met behulp van tegnologie, by ander mense, maar ook deur self te eksperimenteer. Die gevolg is dat mense nou, as gevolg van die vrye toegang van kennis, in ‘n mate almal “kenners” raak wat ‘n bydrae kan maak en hulle ervaring kan deel.
Hierdie manier van kennis en wysheid opdoen en toepas, beïnvloed jongmense se siening van die kerk. Hulle ervaar dat kerke, veral ten opsigte van eredienste, een-rigting kommunikeer met ‘n vasgestelde stel “antwoorde”. Jongmense het egter eerder die behoefte aan veilige, nie-veroordelende ruimtes waarbinne hulle onderwerpe kan bespreek wat hulle lewens raak en waar hulle eerlik tot die gesprek kan bydra. Mense met relevante ervaring kan dien as mentors of “coaches” in die soeke na wysheid, maar hulle moet eg wees en self bereid wees om te leer. Die Bybel is ‘n belangrike bron en so ook geleefde realiteite, stories, en ander bronne uit die wetenskap, tegnologie, kuns en filosofie. Die kerk van die toekoms sal nuut moet dink oor byeenkomste soos eredienste, sodat dit meer informeel en interaktief is. Mense sal dan met vrymoedigheid kan deelneem en saam kan soek na relevante, lewensgerigte wysheid wat prakties toegepas kan word.


Die Bybel en wysheid:
Watter rol speel die Bybel in jongmense se lewens?
- 46% het genoem hulle lees dit min en meen dit is onbelangrik.
- 17% lees dit min maar hulle meen dit is belangrik
- 37% lees dit gereeld en meen dit is belangrik
Waarom lees jongmense die Bybel?
- 4/10 lees die Bybel om raad te kry hoe om te lewe
- 1/10 meen dit is ‘n bron van antwoorde
- 3/10 sê die Bybel is ‘n rigtingwyser
- 2/10 meen dit gee hulle krag, bemoediging en inspirasie
Interessant is dat die data uit die onderhoude wat ons gevoer het met jongmense wys dat hulle die Bybel as belangrik beskou, al lees min dit in praktyk. Dié wat dit wel lees, lees ’n vers per dag, of ’n dagstukkie boek. Dit wil dus voorkom of die lees en toepassing van die Bybel in die soeke na wysheid, nie ’n aktiewe gewoonte is by die meeste deelnemers nie.
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).