Skip to main content

Jongmense is op soek na ‘n ruimte waar hulle ‘n eietydse uitdrukking van geloof kan vind en uitleef. Die kerk van die toekoms bevorder spiritualiteit, veral buite die kerkmure. 

Alhoewel jongmense nie noodwendig kerkgaande is nie, is hulle baie spiritueel. In ‘n besige wêreld het mense ‘n toenemende behoefte aan inspirasie, bewustelikheid, ‘n ervaring van God se teenwoordigheid en rus. In die verlede het mense wat godsdienstig was, meestal in georganiseerde godsdiens tuisgekom. Nou is daar al meer mense wat weg beweeg het van die kerk as instansie, maar steeds hulleself as gelowig of godsdienstig beskou. Hulle vind nie noodwendig aanklank by ‘n tradisionele erediens nie, maar het steeds ‘n diep behoefte om God te ervaar en geestelik te groei. Die kerk van die toekoms sal dus meer gefokus wees op indiwidue se persoonlike ervarings eerder as om bloot byeenkomste te reël.

In teenstelling met wat ‘n mens sou verwag in die tegnologie-era, leef die jonger generasie meer bewustelik van hulle geestelikheid en gee hulle op verskeie maniere uitdrukking daaraan. Baie jongmense vertel byvoorbeeld dat hulle gereeld bid en dat hulle vir God in die natuur ervaar. Dit is dus belangrik om daarop te let dat mense se belewenis van die bonatuurlike nie beperk is tot die binnekant van die kerkgebou nie, maar dat hulle oral ‘n belewenis van God kan hê. Verder is hulle ervaring van God ook nie beperk tot die erediens of georganiseerde godsdiens nie, maar ervaar hulle God elke dag in die gewone gang van die lewe. In plaas daarvan om na die kerk of na ‘n erediens te gaan om kennis oor God te ontvang, ervaar jongmense dat hulle by mekaar, aanlyn, deur persoonlike ervarings en deur ‘n verskeidenheid van ander bronne meer oor God leer.

Jongmense vertel ook dat hulle op verskillende maniere geestelike ervarings het – op kampe, in die natuur, in gesprekke met ander gelowiges, by plekke waar hulle ‘n verskil maak, deur boeke te lees, na podcasts of musiek te luister ensovoorts. Hulle het ook ‘n groter toleransie vir mense wat anders as hulle dink of glo en ook op diverse maniere vir God ervaar. Jongmense leef met die wete dat God oral teenwoordig is en Homself op verskillende maniere openbaar en dat mense ook vir God op verskillende maniere aanbid en volg.

Die kerk van die toekoms sal dus buite die boks moet dink om ‘n verskeidenheid kreatiewe en interaktiewe ruimtes te skep vir mense om God Drie-Enig te ervaar.

Hoe beleef jongmense vir God?

Uit 10 mense:
1 stilte
1 stiltetyd
1 musiek
2 natuur
1 gebed en interne gesprek
1 kerk en selgroep
1 tussen ander mense
1 in die motor
1 in alles en oral

Wat verrassend vir ons was in ons onderhoude met jong volwassenes verder weg van die kerk, is dat net 1 persoon genoem het dat hulle God beleef in die Bybel en net 1 persoon genoem het dat hulle God tussen arm mense beleef. Slegs 1 persoon het genoem dat hulle God glad nie beleef nie. Wat verder uitgestaan het, is hoeveel mense God in die natuur beleef het, asook in stilte.  Dit was ook opmerklik dat die deelnemers woorde gebruik het soos ‘oral’ en ‘altyd’.

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).