Skip to main content

‘n Gemeente het besluit om gesprekke in ‘n plaaslike koffiewinkel te begin om jongmense te bereik wat dalk geïntimideer voel deur die spasie, styl, taal en onderwerpe van ‘n tradisionele erediens. Hulle wou jong volwassenes wat nie meer die kerk bywoon nie, nooi om deel te neem aan geloofsgesprekke. Dit kon daartoe lei dat die jongmense die vrymoedigheid gehad het om eerlik hulle broosheid, vrae en verliese met mekaar te deel. 

Hulle het ‘n kern groep saamgestel wat ander genooi het. Soos dit maar met vriende van vriende gebeur, was dit ‘n baie diverse groep uit verskillende agtergronde, beroepe, inkomstegroepe en woonareas. ‘n Groot deel van die groep was Christene, maar meeste het nie meer ‘n tradisionele erediens by die kerkgebou bygewoon nie. 

Die byeenkoms is so ingerig dat jongmense lekker kon ontspan en eerlike gesprekke kon voer. Vooraf is daar aan hulle vertel dat dit ‘n informele gesprek oor ‘n tema sal wees, maar met geen preek of kits-antwoorde nie. Temas het veral gefokus op jongmense se lewenservarings en uitdagings soos verhoudings, seerkry, streshantering, angs, Godsbeeld, vrae oor geloof en eensaamheid.

Oor cappuccino’s en tramazini’s het die gesprekke spontaan dieper geraak en jongmense het gemaklik gevoel om ook hulle vrae te deel en die kwessies waarmee hulle sukkel. Waar goeie koffie, aangename geselskap en werklike gemeenskap mekaar ontmoet, is jongmense bereid om hulle skoene uit te trek en mekaar op heilige grond te ontmoet. Vir baie van die deelnemers het Cappuccino Kerk hulle opnuut weer moed gegee vir die kerk in die algemeen, en het hulle besluit om weer eredienste by te woon. Vir ander was hierdie gesprekke hulle “kerk” en het dit aan hulle behoefte aan geestelike ondersteuning voldoen.

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).