ʼn Groep jongmense uit ‘n gemeente het oortuig geraak daarvan dat hulle verhoudings moet bou met ‘n groep wat uit ‘n ander kultuur en agtergrond kom, maar hulle woongebied het beperkte geleenthede hiervoor geskep. Hulle het gevoel dat hulle graag iets wil doen om hulle homogene samestelling te verander. Hulle het egter nie geweet waar om te begin nie. Die predikant het na hulle behoefte geluister en hy het ‘n organisasie genader wat werk met jongmense in ‘n ander gemeenskap om deel te neem aan ‘n kenmekaar geleentheid.
Die vraag was egter hoe sou ‘n mens kon verhoudings bou tussen die twee groepe jongmense wat uit twee verskillende kontekste kom, en ook heeltemal verskil in inkomste- en opvoedingsvlak? Uiteindelik is daar besluit om die krag van spel te gebruik om mure af te breek en die twee groepe aan mekaar bekend te stel.
Die jongmense is bymekaar gebring in ‘n gemeenskapsaal en intensioneel opgedeel in groepe wat gemeng is. Aanvanklik was almal maar ‘n bietjie skaam en formeel, maar nadat die eerste liedere gesing is en speletjies gespeel is, was die ys gebreek. Die res van die aand kon die jongmense saam aan tafel sit, lekker saam eet en informeel gesels. Om die lang tafel kon hulle intensioneel diverse vriendskappe bou met mense wie hulle nooit op ‘n daaglikse basis sou ontmoet nie.
Die ouer mense van die gemeente het die jongmense bederf met heerlike warm kos en nagereg en dit kom bedien. Hulle het dit gesien as deel van die gemeente se roeping om ʼn gasvrye ruimte te skep vir diverse jongmense.
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).