Skip to main content

Daar was nog nooit meer inligting op mense se vingerpunte as vandag nie, en jongmense is gedurig besig om hulle lewens te dokumenteer. Daar word baie gepraat oor tegnologie se gevare – almal weet dat lang skermtyd, die inhoud van dit waarna mense kyk en mense se interaksie op veral sosiale media, nadelig kan wees op ‘n mens se fisiese en emosionele welstand. Oormatige aanlyn teenwoordigheid kan selfs lei tot ‘n gevoel van minderwaardigheid, uitbranding en oppervlakkige konneksies. 

Maar ‘n mens kan beswaarlik ‘n wêreld sonder e-pos, selfone en die internet voorstel. Jong volwassenes se lewens is al meer geïntegreerd met tegnologie, en mense soek na maniere om hulle digitale lewens sinvol in te rig. Daarom is dit so belangrik dat die kerk in hierdie ruimte leiding bied oor die gebruik van tegnologie en die implikasies daarvan, goed en sleg.

Die kerk van die toekoms het drie belangrike bydraes om te lewer. Die eerste is om maniere te ontgin vir mense om mekaar as gelowiges in digitale spasies te ontmoet en gemeenskap te bou. In plaas daarvan om bloot preke of ander inligting aanlyn te plaas en nuus te kommunikeer, moet die kerk van die toekoms die verskeidenheid sosiale media spasies benut om die breedte, gereeldheid en diepte van konneksie te verhoog. Tweedens het mense nie noodwendig meer aanlyn inhoud nodig nie, maar die wysheid oor watter inhoud betroubaar is. ‘n Geloofsgemeenskap kan as ‘n gids optree vir mense om “playlists” van inhoud saam te stel wat relevant is tot hulle lewens en geloofsgroei. Derdens kan die geloofsgemeenskap mekaar help om opbouende en gesonde gewoontes te kweek vir die gebruik van tegnologie. In plaas daarvan om bloot die gevare daarvan uit te wys, kan gelowiges mekaar prakties raad gee oor hoe om die gawe daarvan te benut en in die gebruik daarvan balans te hou.

Hoe groei jongmense?

Uit 20 mense:
4 boeke
3 gesels
3 aanlyn
3 geloofsgewoonte
2 musiek
2 koerante / artikels
1 klasse, kursusse
1 introspeksie
1 ander

Die rol van selfone

Wat verrassend was in ons onderhoude met jong volwassenes, is die rol wat tegnologie (veral selfone) in hulle lewens speel. Die prentjie wat duideliker word, is dat deelnemers in ’n sosiale konteks nie noodwendig “die heeltyd” op hulle fone is nie, maar dat hulle dit meer gebruik om hulle herinneringe vas te vang asook vir funksionele tegnologie (soos vir oefening, werk, gesondheid en vermaak). 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).