Toe die Covid-19 pandemie die wêreld tot stilstand gebring het, en mense met grendeltyd vasgekeer was in hulle huise, het ‘n groep predikante besef dit is ‘n unieke geleentheid om vir jong families te help om God te midde van die onsekerheid te ontmoet. Hulle wou families ‘n hulpmiddel gee om ‘n nuwe geloofsgewoonte te kweek om huisgeloof ‘n daaglikse ritme te maak. Dit sou as ‘n ankerpunt kon dien in dié onstuimige tyd. In grendeltyd is die daaglikse ritmes van gesinne ook versteur en mense se pas was stadiger. Dit was dus die ideale tyd om ‘n nuwe, opbouende gewoonte aan te leer om hulle te help om mekaar te ondersteun en hulle geloof te versterk.
Die groep predikante het virtueel saamgekom en besluit om ‘n toepassing (app) te ontwikkel vir ouers met jong kinders om hulle te help om op ‘n eenvoudige manier saam Bybel te lees en te bid. Die hulpmiddel sou veral handig wees in ‘n tyd wat kerke gesluit is, maar ook daarna. Die app bevat ‘n daaglikse oordenking of podcast met ‘n storie, ‘n teksdeelte, gespreksvrae, ‘n gebedswenk en praktiese doen idees vir families, kinders en tieners. Dit kan gebruik word deur gesinne met verskillende ouderdom kinders om saam te wonder, te gesels, te bid en dinge saam te doen as ‘n intensionele gewoonte om hulle geloof te versterk en God te beleef. Hulle kan dit enige plek en tyd doen – selfs in die motor – en dit is toeganklik vir almal.
Die gevolg is dat ‘n paar jaar later, die app steeds deur gesinne gebruik word. Hulle vertel dat dit vir hulle ‘n eenvoudige daaglikse ritme geword het om as gesin by God en die Bybel uit te kom. Omdat dit so eenvoudig is en binne 5-10 minute gedoen kan word, is dit ook ‘n maklike gewoonte om aan te leer en by te hou, al is gesinne se programme baie vol.
Jongmense is op soek na maniere om ‘n gesonde en sinvolle lewenstyl te handhaaf binne die gejaagde moderne lewe en die kerk van die toekoms kan die geleentheid aangryp om geloofsgewoontes te kweek om hulle hiermee te help. In tye van verandering bied hierdie gewoontes ‘n vashouplek aan God en sy groter storie.
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).