‘n Predikant was bekommerd oor die afwesigheid oor jongmense in die kerk. Die gemeentelede van die betrokke gemeente was meestal ouer lidmate, en daarom het jongmense uit die omgewing moeilik ingepas by die tradisionele kerk aktiwiteite. Dit het haar gemotiveer om ‘n eksperimentele ruimte te skep waar jongmense wat nie noodwendig kerkgaande is nie, kan tuiskom en kuier. Die uitdaging was egter dat jongmense in haar omgewing meestal in woonstelle woon waar ruimte beperk was. Die huise van die ouer lidmate in haar gemeente was egter groot met ruim kombuise en genoegsame plek om te kuier.
Die predikant verduidelik dat Secret Kitchens gebore is uit die droom om die behoeftes van jongmense aan te spreek deur die gawes van die gemeente beskikbaar te stel. Dit het ‘n alternatiewe ruimte gebied waar jongmense in ‘n huislike atmosfeer kan kuier en hulself wees. Dit is ongelooflik om te sien hoe iets so eenvoudig soos om saam kos te maak en saam te eet, mense laat tuis voel en oor grense heen aan mekaar verbind en ‘n gemeenskap bou.
Hoe werk dit? Een keer per maand ontmoet jongmense in ‘n huis van ‘n ouer lidmaat in die gemeente. Die adres bly ‘n geheim tot ‘n paar ure voor die geleentheid, omdat jongmense hou van die verrassingselement van só ‘n byeenkoms, vandaar die “secret” van “Secret Kitchens”. Die jongmense bepaal self vooraf die spyskaart en elkeen bring bestanddele saam om die kos te maak. Die (ouer) eienaars van die huis stem vooraf in om hulle kombuis en kuier ruimte beskikbaar te stel daarvoor. Hulle word ook genooi om deel te neem aan die aand, maar hulle mag nie as gasheer of gasvrou optree of die aand reël nie. Die jongmense berei self die ete saam voor, eet saam en geniet mekaar se geselskap. ‘n Groot deel van die aand gebeur om die tafel waar hulle ook spontaan gesels oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe, insluitend sport, winskopies, musiek en geloof.
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).