Skip to main content

‘n Predikant van ‘n plattelandse gemeente het ‘n droom gehad dat die hele dorp saam sou eet en kuier by ‘n lang tafel in die hoofstraat van die dorp. Hierdie droom is geïnspireer deur Bybelverhale oor gemeenskaplike etes. Die predikant in die gemeente het die visie met die gemeente gedeel, maar sy het gemeen daar is te veel struikelblokke om só ‘n reuse projek aan te pak. Tot haar verbasing was daar egter heelwat jonger mense wat daarvoor kans gesien het. Hulle het geglo in die droom en die energie gehad om dit te maak werk. Die predikant vertel hoe sy die beheer weggegee het en dat sy verras is hoe daar verskeie netwerke in die gemeenskap gemobiliseer is om die projek aan te pak. Talle mense het uit onverwagse oorde na vore getree om leiding te neem van die verskillende aspekte van die projek om die droom te help realiseer.

Uiteindelik het die aand aangebreek waaraan die hele gemeenskap saamgewerk het. ‘n Duisend mense, jonk en oud, ryk en arm het by een lang tafel in die hoofstraat aangesit om ‘n drie-gang maaltyd te geniet. Die aandete kaartjies is vir slegs R20 verkoop en vreemdelinge is ook genooi om deel te wees van die geleentheid om diversiteit te bevorder. Dit was ‘n ongelooflike ervaring om van deel te wees.

Die sukses van die langtafelprojek was te danke aan die diverse leierskapstyle, deelname en vertroue van die gemeenskap wat saamgewerk het aan ‘n gedeelde droom. Die predikant se aanvanklike visie is deur ander jonger leiers en spanne mense se dienswerk moontlik gemaak. Dit het die hele gemeenskap op ‘n tasbare manier nader aan mekaar gebring op ‘n aand wat niemand gou sal vergeet nie.

Die samewerking het ‘n sterk gemeenskapsgevoel geskep wat elkeen oortuig het dat groot drome verwesenlik kan word. Die langtafelprojek was ‘n voorbeeld van hoe netwerke uit die gemeenskap vir toekomstige projekte kan saamwerk en het hulle geïnspireer om verder te droom.  

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).