Skip to main content

Die nuwe generasie wil hê dat hulle lewe betekenis moet inhou. Jongmense het ’n behoefte om met hul gawes, hulle beroep, dit wat hulle koop (of nie koop nie) en waar hulle betrokke raak, ‘n verskil te maak. Al meer jongmense kies hulle beroep of werksgeleenthede op grond van die betekenis eerder as finansiële oorwegings. Baie jongmense sal eerder ‘n werk doen wat minder betaal, maar waar hulle ‘n rol kan speel en ‘n verskil kan maak, as ‘n werk wat goed betaal, maar waar hulle geen waarde toevoeg nie.

Jongmense beskou hulle roeping as iets wat meer geïntegreerd is in hulle lewe in vergelyking met hoe mense dit in die verlede verstaan het. In die verlede sou sommige mense by die kerk betrokke geraak het by ’n insamelingsprojek, of hulle sou ‘n deel van hulle geld daarvoor bygedra het. Barmhartigheid is meestal beskou as ‘n institusionele verantwoordelikheid van die kerk en/of die regering en nie as ‘n indiwiduele verantwoordelikheid nie. Mense het nie oor die algemeen gedink dat hulle ‘n invloed kan uitoefen op sake soos etiese produksie, volhoubare ontwikkeling of sosiale verantwoordelikheid nie.

Jongmense is egter nou geneig om meer holisties te dink oor roeping as iets wat elke deel van hulle lewe, besluitneming en waardes raak. Hoe hulle dus werk, ontspan, geld bestee en hulle stem laat hoor, is alles verbind aan die manier waarop hulle dink oor die lewe.  Hulle glo ook dat hulle as indiwidue ‘n impak kan hê op die welstand van die wêreld om hulle. Die gevolg van die ontwikkeling van tegnologie en sosiale media, het ook dié oortuiging versterk dat hulle keuses ook ‘n globale impak kan inhou.

Daarom moet die kerk van die toekoms by jongmense aansluit waar hulle reeds besig is in hul alledaagse beroep en lewe om ‘n verskil te maak. Gemeentes kan jongmense help om hulle geloof en lewe aan mekaar te verbind. Die kerk kan ook geleenthede skep vir jongmense om op hulle terme diensbaar te wees, asook jongmense se idees ondersteun en na hulle stem luister.

Hoekom doen jongmense hulle bepaalde werk?

Uit 10 mense:

5 – passie vir die werk
1 – kleintyd droom
1 – om ‘n verskil te maak
1 – salaris
1 – beskikbare werk
1 – ander redes bv. ouer in bedryf, werksure ens.

Wat is jongmense se passie of roeping?

5 uit 10 of 50% mense
2 uit 10 of 15% nuwe dinge te leer en te doen
1 uit 10 of 13% natuur
1 uit 10 of 12% tegnologie
0.5 uit 10 of 6% kunste
0.5 uit 10 of 4% ander

Wat verrassend vir ons was in ons onderhoude met jong volwassenes verder weg van die kerk, is dat mense by verre hulle sterkste passie was. Dit was ook interessant dat om nuwe dinge te leer of te doen, die natuur, tegnologie en die kunste ook die top 5 gehaal het. Niemand het geld of sukses genoem as hulle passie nie.  

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek “Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit”, deur Anriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé. Beskikbaar by DinkJeug (e-pos [email protected] om die boek te bestel).